Sunday, March 7, 2010

Wie wil jy wees?

Ek het die voorreg om met baie gesinne te werk. By te wees as ouers met en oor hulle kinders praat. Om dan self met hierdie jongmense te gesels en te hoor hoe hulle oor hulle self dink. Een van die dinge wat my bly opval is mense se drome vir hulle kinders en hoe kinders eners begin droom.

Ons wil almal die beste vir ons kinders hê. Ons droom dat hulle eendag gelukkig sal wees, ‘n goeie werk sal hê, gelukkig getroud sal wees(met iemand van die ANDER geslag). Dat hulle SUKSESVOL sal wees.

As ons saam met ons kinders huiswerk doen is dit wat ons vir hulle herbevestig. “Jy moet jou huiswerk doen anders gaan jy nie eendag Universiteit toe kan gaan nie en gaan jy nie ‘n goeie werk kan kry nie.”

Ons bevestig dit as hulle aan sport deelneem. “KILLER INSTINCT! Geen genade!” Ons bevestig dit na hulle prestasies ontvang het. “Ek kan dit nie glo nie, dit is onregverdig. Jy moes die eerste plek gekry het! Toemaar volgende keer!” So kan ons aangaan met voorbeelde.

Wat ons eintlik kommunikeer is: Dit is belangrik watter prestasies en verwagtinge jy kry en aan voldoen in die lewe. Wie moet jy word? Die persoon wat al hierdie goed doen en dit dan GOED doen! Daarom sit ons met soveel mense wat leeg is, alhoewel hulle gereken word in die top 10% van die Wêreld bevolking. Dit waarna hulle streef is leeg.

Wat wil ek hê moet my seuns word?

  • Manne wat genade uitleef
  • Manne wat respek het vir hulle self, ander en die natuur
  • Manne wat ander mense en hulle behoeftes raaksien
  • Manne wat eerlik is
  • Manne wat nederig is
  • Manne wat lewe met vreugde en passie
  • Manne wat hulle gawes geniet
  • Manne wat vir GOD lief is!

Hierdie lys gaan nie oor iets wat hulle moet word eendag nie. Dit gaan nie oor prestasies wat hulle eendag moet bereik nie. Dit gaan oor wie hulle IS en gaan WEES. Te lank in my lewe het ek onder die wan indruk geleef dat dinge wat ek doen en bereik maak dat ek belangriker is en meer aanvaarbaar is vir God. Tog kom ek agter dit gaan vir God oor wie ek IS. God wat met my wil tyd spandeer. God wat dink dat ek spesiaal is. Jes 43:4 “Omdat jy vir My kostelik is, omdat Ek jou hoog ag en liefhet...”

Hoe verander ek dan die manier hoe ek met my kinders omgaan. Die taal wat ek gebruik as ek met hulle praat. Hoe gereeld bevestig ek dit aan hulle dat ek hulle onvoorwaardelik liefhet. Hoe gereeld doen ek simpel dinge saam met hulle net omdat.

Ek gaan vir die volgende maand probeer om al die energie wat ek gewoonlik gebruik om seker te maak dat hulle uitdraai soos die samelewing verwag te herkanaliseer. Ek gaan probeer om te fokus op die belangrike dinge, om hulle lief te hê, om die waardes wat vir God belangrik is te demonstreer. Ek gaan ook probeer om dit nie te oen in die vorm van morele lessies wat maar net weer gemik is daarop om hulle iewers iets te laat bereik nie. Ek gaan probeer om hulle al hoe meer te leer om ook te leef in die hier en nou voor God. Om nou reeds genoeg te wees. Nee daar gaan ek alweer. Om nou reeds te besef dat hulle goed genoeg IS.

Ek gaan met hulle praat oor dit wat God ons maak. Dit is egter moeilik want dit is nie soos ek grootgeword het nie. My grootste droom was nie om elke dag te leef met: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing.[1] Ek hoop as ek dit genoeg vir my kinders vertel dat dit my droom vir hulle is, en iets hiervan probeer leef dat dit ook die droom van hulle lewens sal word.


[1]Die Bybel : Nuwe Vertaling. 1998, c1983 (Ga 5:22). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.




4 comments:

  1. Sjoe Paul, hierdie het my regtig aangespreek. Nie miskien oor hoe ek dink oor kinders grootmaak nie, maar hoe ek dink oor mense. Hoe meet ek mense? Aan my eie standaarde, soos waarmee ek grootgemaak is? Hoe meet ek myself? Wat is sukses vir my? Wanneer is ander suksesvol in my oe? Mag ek leer om anders te kyk. Linka

    ReplyDelete
  2. Stem so met jou saam, ek dink baie keer probeer ons, ons kinders "shape" soos ONS wil wees, soos ONS hulle wil he. En soveel keer is ons maatstaf die reels van hierdie samelewing, wat jy bereik eerder as wie jy is.

    ReplyDelete
  3. Shoe, dankie Paul. Ek was so seker dat ek vir my kind leer dat hy die beste is al staan hy nie eerste in die klas nie en al kom hy nie eerste by die atletiek nie, maar jy sal dit nie glo nie. Hierdie woorde wat jy hier bo gebruik het, “Jy moet jou huiswerk doen anders gaan jy nie eendag Universiteit toe kan gaan nie en gaan jy nie ‘n goeie werk kan kry nie.” en “Ek kan dit nie glo nie, dit is onregverdig. Jy moes die eerste plek gekry het! Toemaar volgende keer!” dit is asof dit uit my eie mond gekom het. My mond het oopgeval. Ek kon dit net nie glo nie. Dis PRESIES die woorde wat ek elke keer gebruik het. Shoe, dankie Paul dat jy my weer herinner het oor wat eintlik belangrik is in die lewe.

    ReplyDelete
  4. As ons 'n samelewing kan aanleer om hierdie punte uit te leef, sal meer mense Jesus se liefde verstaan. Dis so goed om daaraan herhinner te word, want ons kapitalistiese samelewing verkondig 'n heel ander "evangelie".

    ReplyDelete