Monday, April 26, 2010

Die Argument vir God

Hierdie is ‘n interresante boek en in die huidige gesprek oor God is die ‘n wonderlike lees. As jy egter nie hou van Sosiale denkrame en kreatiewe vrae oor God nie, bly weg. Persoonlik is hierdie tipe boeke vir lekker want dit bied ‘n ander invalshoek met gesprekke met mense wat twyfel. Die artikel kry ek by Kletskerk
Samuel Pauw , 2010-04-16
Die gesprek oor God het in die eerste dekade van die 21e eeu meer intens as ooit geword. Dié wat die bestaan van God afwys, het dit al meer sonder skroom begin doen. Dikwels met argwaan en sarkasme. Een van die stemme wat orals gerespekteer word, is dié van die briljante denker en skrywer-teoloog Karen Amstrong. Haar jongste boek,The Case for God, What Religion Really Means, is een wat soekers nie kan laat verbygaan nie. Samuel Pauw gee 'n uiteensetting in die jongste Kerkbode.

Karen Armstrong was in haar jeug ʼn non, daarna het sy vir jare geen erg aan godsdiens gehad nie. Sy het hierna met ʼn omvattende studie van die drie monoteïsmes en Oosterse godsdienste begin. Vanuit dié wye verwysingsraamwerk het sy oorspronklike en verrassende insigte ontwikkel. Haar jongste boek,
The Case for God (2009) is, soos haar ander werke, dig geskryf en deeglik nagevors met meer as 70 verwysings per hoofstuk. Die sagte aanslag van die boek val op. ʼn Sokratiese benadering is merkbaar; daar is min aggressie, eerder sagte en oortuigende argumente om andersdenkendes te oorreed tot 'n herwaardering van hulle standpunte. Die boek behandel onder andere die volgende:
Logos en mythos
Vanaf die vroegste tye was die twee begrippe 'n wesenlike deel van menswees. Armstrong se ondersoek begin by die grotskilderye van Lasquax, ongeveer 30 millennia gelede. Die misterieuse het duidelik hier 'n belangrike rol gespeel. Die Grieke en Romeine het albei begrippe, logos en mythos, as geldig aanvaar en gemaklik daarmee saamgeleef. Vanaf die “moderne” periode, die skrywer kies 1492 vir die begin hiervan, het logos (die rede, rasionaliteit) al sterker op die voorgrond begin tree. Feitelike kennis wat noodsaaklik vir voortbestaan was en is, het dié maatstaf geword. Mites, waarvan die volle betekenis nie onder woorde gebring kan word nie, is as blote stories beskou en aan onwaarhede gelykgestel.
Die verband en balans tussen logos en mythos is 'n deurlopende tema in die boek. Dit is twee afsonderlike terreine wat verkieslik nie op mekaar inbreuk behoort te maak nie. Wetenskap en godsdiens is ook afsonderlike terreine wat elk 'n bydae tot 'n sinvolle leefwyse maak: Die wetenskap kan byvoorbeeld kanker diagnoseer en soms gesond maak, maar dit kan nie die angs wat so 'n diagnose veroorsaak, aanraak nie. Godsdiens kan wel sulke angs besweer. Armstrong bepleit ʼn herwaardering van mythos; baie dele van die Bybel behoort volgens haar hiertoe. 'n Groter klem op mythos kan vandag gelowiges help om met meer vrede, vreugde en kreatiwiteit te leef.
Godsbegrip
Vir Armstrong is dit 'n onderskeidende kenmerk van die mens om na die spirituele, na dit wat verder en dieper as die werklikheid lê, te soek en te ervaar. Sy praat graag van Homo religiosus, wat so 'n soeke en ervaring verbeeld. Die soeke is nimmereindigend ook omdat dit in kommunikasie onder woorde gebring moet word en taal het grense wat nie oorskry kan word nie. God is onsêbaar (ineffable), God is as méér as wat 'n mens onder woorde kan bring en is sonder twyfel nie net ʼn “hy” nie.
Een ingeboude skeet van monoteïsme is 'n neiging tot afgodery, om God as 'n meer en groter beeltenis van die self te sien. Voorkeure en afkeure van 'n bepaalde groep word dan aan God toegedig wat tot 'n afwysing en selfs uitdelging kan lei van diegene wat nie aan die maatstawwe voldoen nie.
Die tweede helfte van die boek fokus op die “moderne” God in besonderhede. Copernicus, een vader van die wetenskaplike revolusie, het in 1543 'n heliosentriese kosmologie voorgestel wat reëlreg met Bybelse uitsprake bots. Logos het die mythos van die Bybel weerspreek. Sedert die Verligting het die rede al belangriker geword en godsdiens het óf gekwyn óf probeer om meer rasioneel voor te kom (byvoorbeeld die rasionele klem in die Belydenisskrifte).
Geloof
Geloof word nie net in die kop beoefen nie. Dit is 'n leefwyse waarin die hele mens betrek word. Eensklapse bekering het nie die waarde van 'n langdurige en toegewyde ingesteldheid nie. Armstrong beweer dat die Credo “ek glo” afgelei is van cor do “ek gee my hart”. Om jou hart te gee is nie eenmalig nie, maar voortdurend. Elke godsdiens het reëls en dogma, maar dit alleen is nie voldoende vir volhoubare geloof nie.
Dit is belangrik om die eie ek op die agtergrond te skuif en hartlik meelewend (compassionate) met ander om te gaan. Die goue reël; Doen aan ander wat jy wil hê ander aan jou moet doen, geld deurgaans en behoort elke dag heeldag toegepas te word. Dit kom volgens Armstrong in al die wêreld-godsdienste voor.
Sy beweer dat geloof meer 'n kunsvorm, 'n vaardigheid, as 'n wetenskap of filosofie is. Dié kuns en vaardigheid groei met verloop van tyd en 'n gevoel van agting en wonder ontwikkel hieruit. Sulke verwondering is nie iets wat net enkele kere in 'n leeftyd voorkom nie. Klein “ekstases” kan daagliks ervaar word deur gelowiges wat ontvanklikheid aankweek. Geloof vra vir 'n luisterende benadering en 'n oop hart.
Ateïsme en fundamentalisme
Armstrong beskou dié benaderings as twee kante van dieselfde munt. Ateïsme parasiteer op en beveg 'n bepaalde teïsme wat dikwels fundamentalisties van aard is. Een rede hiervoor is dat sulke rigtings op onbekwame (unskillful) godsdiens geskoei is met twyfelagtige “sekerhede” en 'n verskraalde geloof as grondslag.
Fundamentalisme is op vrees vir die onbekende gebou en val daarom terug na bedenklike fondamente. Deur die Bybel letterlik te verklaar, word die ryk diversiteit van dié versameling boeke ontken. Dit is dan maklik vir die ateïsme om die oënskynlike teenstrydighede aan die kaak te stel.
Ateïsme is 'n teenaanval sonder 'n toekomsvisie. Dit neig om humanisme, rasionalisme en naturalisme te bevorder en sodoende geloof in die onsienbare af te kraak. Richard Dawkins (in The God Delusion) beweer byvoorbeeld dat altruïsme geneties vasgelê is. Godsdienste neem altruïsme egter vér verby dié wat dit beoefen se voordeel, net soos die gaarmaak van kos wat histories vasgelê is, in haute cuisine kan ontwikkel.
'n Alternatiewe paradigma
Die vorige eeu is gekenmerk deur twee denkpatrone. Die wetenskaplike patroon het aan die begin van die eeu onstuitbaar voorgekom; gegewe genoeg tyd sou kennis só uitbrei dat alles verklaar en verstaan kon word. Teen die 1960's is besef dat dit nooit haalbaar is nie en die postmoderne paradigma het ontwikkel. Dit het egter 'n lang voorgeskiedenis, tot so ver terug as Lasquax. Nie-sekerheid (not knowing) het absolute rasionele wete bevraagteken. Veral die Christendom het terugverwys na die pre-moderne en daaruit waardevolle insigte geneem: Tekste het meervuldige betekenis; konteks verander insig. Die rabbi’s het gevra: Wat is Torah? Hulle antwoord: Dit is die interpretasie van Torah. Armstrong meen dat postmoderne dekonstruksie rabbinies van aard is.
Die boek se subtitel, What Religion Really Means, kan misleidend voorkom, so asof die geheim van godsdiens hier onthul word. Armstrong beweer egter die teendeel. Geen godsdiens het nie die allerantwoord nie, die ware betekenis van godsdiens is verskuil en 'n persoonlike beoefening daarvan bly 'n lewenslange taak. Sy beoefen godsdiens in die studeerkamer en as spreker op die verhoog. Die kerk speel vir haar nie 'n deurslaggewende rol nie, dit funksioneer ten beste as fasiliteerder en versterker wat die gelowige help om 'n hegter band met God te sluit.
BRON: Kerkbode



No comments:

Post a Comment