Wednesday, April 14, 2010

Pinkster 2010

clip_image002
Dit is met groot verwagting en baie opgewondenheid waarmee ons as Familiebediening uitsien na Pinkster 2010. Ons het al in November begin voorberei, gebid gedink, gebid en wonderlike oomblikke saam met God beleef. In Oktober verlede jaar het die kerkraad die keuse gemaak dat een van die hoof fokusse hierdie jaar die tieners is. Dit beteken dan ook dat ons spesifiek op
families fokus. Dit is onmoontlik om tieners te bedien indien dit los gebeur van die ouers, grootouers en ander familie-lede. Ons hoop om hierdie jaar almal betrokke te kry vanaf die kleinste kindjie tot en met die oudste. Van die mense wa tuit gesinne kom met 12 kinders tot die enkeling wat alleen in die gemeente voel. Hierdie jaar is daar plek vir almal. Ja, daar is plek vir JOU. Ek bid reeds vanaf November elke dag vir hierdie Pinkster en spesifiek dat die Here ons harte voorberei vir hierdie geleentheid.
Die Pinkster tema vir 2010 is “God se Scrapbook” Ons gaan iets ontdek van wie God is, hoe groot God se plan vir hierdie wêreld is, en die rol wat ons daarin speel. Ons gaan kans kry om te aanbid en voor God te buig. Om opnuut te gaan kyk na ons verhouding met God, maar ook na ons verhouding met mekaar. Julle is welkom om solank die storie van Jakob te gaan lees. (Gen 25).
Ons wil julle egter dringend oproep om jou hele gesin saam te bring. Veral die tieners! Ons gaan die dienste op so ‘n manier inrig dat daar werklik iets vir almal sal wees. In die Kapel gaan daar vir die klein kindertjies ‘n program wees waar hulle kan leer en versorg word sodat ouers ook bietjie kan rus en stil word voor God. In die Bruinsaal gaan Santie Nel met die kinders Gr 1-6 ook die Jakob storie doen. Dit gaan op so ‘n manier gedoen word dat as die kerk klaar is jou kind sal kan saampraat oor wat gebeur het. Daar gaan ook tye gedurende die week wees waar ons die kinders gaan innooi om by ons te kom sit. Vir die ouers is dit die geleentheid om langs daardie tiener van jou te kom sit. Hierdie kan een van die wonderlikste weke van julle lewens wees. Oortuig jou tiener om te kom, as dit nodig is koop hulle om en in die uiterste situasie dreig hulle. Maar maak seker hulle kom. Ons gaan ernstig wees om ons gaan dit definitief ook saam geniet.
Ons as gemeente het dan juis ook die Pinkster vroeër geskuif om juis dit moontlik te maak vir die Tieners met hulle eksamens om hierdie week te kan bywoon. Ons begin Sondag oggend 9 Mei in die klassieke, informele en Meditatiewe diens met die Eerste diens in die reeks: Sondag oggend: God se storie met Abraham, Isak, Jakob en ons. Sondag aand is die tweede geleentheid: God verskyn aan Rebekka. Maandag aand is die derde geleentheid: Jakob sien GOD. Dinsdag aand is die vierde geleentheid: God maak die lewe moeilik. Woensdag aand is die vyfde geleentheid: God verloor die stoeigeveg. Donderdag aand is die sesde geleentheid: God se storie met Abraham, Isak, Jakob en ons. Ons sluit dan Sondag af met ‘n lofprysing en aanbiddingsdiens af.
Sondag en Donderdag aand gaan die informele musiekgroepe verantwoordelik wees vir die sang in die dienste. Maandag en Woensdag gaan ons die Orrel gebruik vir die sang en Dinsdag aand gaan die Tiener Band vir ons die musiek doen.
Vir die mense wat nie die aanddienste kan bywoon nie gaan ons hierdie jaar dit herhaal die volgende oggend. Dws. Sondagaand se diens word Maandag oggend herhaal en die sesde diens is dan die Vrydag oggend.
Begin so lank saam met my bid vir hierdie geleenthede wat ek glo dat God met ons ‘n besondere afspraak het.



1 comment:

  1. Dankie vir so baie moeite Paul. Dit is die regte dinge om "kerk" weer "kerk" te maak. Mag ons almal in die tyd weer ontdek wat 'n heerlike gebeurtenis dit is om gebuig tyd by ons Vader en Here Jesus deur te bring. Dankie...

    ReplyDelete