Tuesday, April 13, 2010

Politiek en ek is nie maats nie.

Kyk bietjie na die artikel wat Jaco Strydom in die beeld geskryf het. Dit is heel moontlik die laaste keer wat julle my iets sal hoor sê oor die politiek. Dit gaan egter nie so seer vir my oor die politiek nie, maar hoe ons toelaat dat ander mense ons maak soos hulle is.


Malema en ET: Munt-kante

2010-04-12 22:02


Mnr. Eugène Terre’Blanche, wat Vrydag begrawe is en Mnr. Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga. Foto's: Theana Calitz en Khaya Ngwenya

Jaco Strydom
Mnr. Julius Malema, ANC-jeugligaleier, en mnr. Eugène Terre’Blanche se gene is eintlik baie dieselfde (behalwe dat Terre’- Blanche dood is) - miskien gaan hulle straf wees
dat hulle eendag vir baie lank langs mekaar moet sit?
Mag Malema en sy groepie se tantrums en die AWB se gedreig en gekerm ons inspireer om anders te wees.
Jesus het gesê geseënd is die vredemakers, let’s face it, ons het genoeg moeilikheidmakers.
Malema se groot gevaar lê vir my in sy invloed op mense, en nou bedoel ek nie net sy volgelinge nie, maar veral sy teenstanders.
Ek gesels nou die dag met ’n baie rassistiese wit Afrikaner-jong man.
Hy gaan vreeslik te kere en met ’n skok besef ek: Hy klink nou nes Malema!
As jy jou oë toemaak, sy bitsige prekie in Engels vertaal en twee woorde verander, kon dit netsowel ’n toespraak by die ANC-jeugliga gewees het.
Bitter of beter
Mense soos Malema het die potensiaal om ons almal soos homself te maak. ’n Mens word maklik wat jy haat (Dit is waarskynlik wat met hom gebeur het?).
Haatspraak is aansteeklik.
Party van ons steek by ons eie ooms en oupas aan, ander kry dit by ons vyande.
So, as jy haat wat hy sê, wees dan anders! Reageer dan versoenend en nie rassisties nie.
Anders het jy mos geen voet om op te staan nie? As jy haat spreek, is jy dalk nes die ou wat jy haat.
Iemand het eenkeer gesê die lewe maak ’n mens óf bitter óf beter. Ons het ’n keuse.
Jy kan tog nie moan en tekere gaan oor die goed waaroor jy geen beheer het, as jy nie beheer neem oor dit wat wel binne jou beheer is nie? Selfbeheersing is ’n vrug van die Gees.
Ek kyk gisteroggend op na die profiel van ’n outjie op ’n anti-Malema Facebook-groep. Op sy profiel lees jy die volgende:

Political views
: Dit voken help niks nie want dis nog als die selfte vandat die k@f3rjies begin oor neem het (sy spelling)

Religious views
: Christian
Moet Jesus nie ook Here wees oor ons “political views” nie?!
Jy moet jou vyande liefhê
Jesus leer ons moet opstaan vir geregtigheid en ’n stem wees vir die stemlose, maar ook om met liefde op te tree teenoor ons vyande.
Dit is vir my ook ’n ongemaklike gedagte, maar ek kan mos nie net kies om ’n volgeling van Jesus te wees wanneer dit my pas nie.
Sy sienings het mense dikwels ongemaklik gemaak.
In die tyd van die Nuwe Testament was daar ’n groeiende beweging godsdienstige Jode wat geglo het dat die enigste oplossing ’n gewelddadige verset is teen die Romeinse Ryk. Jesus se uitsprake dat jy jou vyande moet liefhê, die keiser moet gee wat hom toekom en dié moet seën wat jou vervloek, het nie goed afgegaan by hierdie groepie nie.
Jy lees ook nooit dat die Nuwe Testamentiese skrywers gekerm en dreig of mense gemobiliseer het om die Romeine pak slae te gee nie.
Gelowiges is opgeroep om dapper te wees, aan te hou dien en te bid vir die regering.
Te veel Christene vandag het ’n siening dat God net daar is om hulle veilig en gemaklik te hou, te min besef dat Hy ons uitstuur die donker in, om ons lewens te gee vir ’n stukkende wêreld.
Vrede maak kan ’n ongewilde, en selfs gevaarlike, oefening in Suid-Afrika vandag wees, maar jy maak ’n groot fout as jy dink hierdie is die donkerste situasie waarvoor Christene nog ooit te staan gekom het.
Wees bly jy moes nie ’n lig wees onder die regering van Nero, of ’n Duitse Christen in die Tweede Wêreldoorlog, of ’n Chinese gelowige onder Mao Zedong nie.
Natuurlik moet die gereg sy pad stap. Ons moet bid vir gelowiges soos regter Eberhardt Bertelsmann, wat uitsprake moet lewer in sake soos dié. Natuurlik het die regering ook ’n verantwoordelikheid voor God.
Ek dink net ons, die gewone gelowiges op die grond, moet eerder deel van die oplossing wees as deel van die probleem?–?deel van die lig en nie deel van die duisternis nie.
Haat rassisme
As jy iets wil haat, haat rassisme. Dit is ’n vieslike ding wat mense dom goed laat aanvang.
Eintlik is rassisme niks anders as snobisme nie. Dit kweek ’n selfsugtige, “ek is belangriker as jy, ek hoort hier en jy nie,” soort mentaliteit.
Dit maak dat ’n swart man voor die voet kwaad is vir al die wit mense oor wat in die verlede gebeur het en dat ’n wit man nou sommer vir die huiswerker en die plaaswerker kwaad is oor wat Malema gesê het.
Rassisme laat mense wat mekaar glad nie eens ken nie op mekaar skel.
Toe iemand aan die Duitse teoloog Karel Barth vra wat hy aan Hitler sou sê, was sy antwoord: “Jesus het gesterf vir jou sondes.” Dit is hoe vreemd die Christen-boodskap is.
Floyd McClung het jare gelede ’n boek geskryf met die titel: Learning to love people you don’t like.
Dit is waarskynlik Christene se grootste uitdaging vandag: Om in liefde op te tree, al hou jy nie van dit wat gebeur nie of dié wat dit laat gebeur nie - om ’n lig te wees in duisternis.
Romeine 12:21 sê: Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” Daar’s nou vir jou ’n uitdaging in hierdie tye!
Ds. Strydom is direkteur van ECHO Jeugontwikkeling in Pretoria en deeltydse predikant by die NG gemeente Villieria.



2 comments:

  1. Hi Paul

    Ek stem 100% saam. Ja dit is baie erg dat Eugene Terblanche vermoor is, maar so is dit baie erg dat mense van alle klasse en kleure op ‘n daaglikse basis vermoor word. Dit onderliggende redes vir hierdie simptoom moet tog veel dieper le as bloot polities vis a vis Rassisme.

    Wat vir my so erg is van die huidige politieke debat is mede blanke Afrikaans sprekendes se reaksie daarop, wat my dikwels skaam en hartseer laat. Om nou teenoor alle nie-blanke burgers haat te verkondig omdat ‘n paar individue dit teenoor ons uitspreek en daaruit optree maak ons mos nou verseker niks anders as wat hulle is nie. Dit is ook vir my hartseer om te sien, tog moet ek ongelukkig erken nie onverwags nie, om te sien dat ons demokrasie op so ‘n brose grondslag gele is en dat baie van ons lands burgers so vinnig is om te haat en aan te val. Daar is baie redes hiervoor, maar wat duidelik is, is dat dit duidelik veel makliker is om haat, venyn en vrees te saai as vrede en samesyn. Dit vat 3 individue om ‘n hele land om te krap en steeds brose rowe tot op die been oop te grawe en dan word daar gereageer met woede, haat en venyn. Ek bid en smeek dat ons as Christene anders sal omgaan met die huidige politieke debat en onthou dat dit ‘n opdrag is om respek en liefde teenoor ALMAL te openbaar en te verkondig. Selfs teenoor die wat ons benadeel.
    Ilse Eigelaar-Meets

    ReplyDelete
  2. That is really helpful. It provided me a number of ideas and I'll be placing them on my web site eventually. I'm bookmarking your blog and I'll be back. Thanks again!

    cialis online

    ReplyDelete