Monday, July 26, 2010

Francois Jordaan – Belewenisse saam met God

Jesaja 40 tot 55 vir my.
Die werk is nie gereeld soos ek gedroom het oor hoe my werk sou wees toe ek in die skool was nie. Die regering van ons land is nie soos ek dink 'n goeie regering moet wees nie. My sport span het verlede jaar gewen. Nog nie hierdie jaar nie. Weens die "ekonomiese redes" is my salaris relatief minder nou as verlede jaar. Die stories op TV is maar saai sommige aande. My internet is ook meer kere stadig as vinnig. (As ek "uncapped" internet het).

Ja, dit is maar die lewe meeste van die tyd. Tot ek eendag gaan sit het en die dinge so opgeskryf het. Ek sit al die dinge so en kyk, en wonder wat my nog "opgewonde" kan maak. Nuwe kar? Nuwe huis? Nuwe selfoon? Ek weet al uit ervaring dit hou net 'n maand of 'n jaar. En ek wil nie eers dink aan hoe my begroting dan gaan lyk nie. Ek sien toe depressie as my voorland.
Een van die beste stukkies raad wat ek lank gelede as gekry het en sporadies toepas, is om stiltetyd eerste ding in die oggend te hou. Die aande het al te veel kere met 'n Bybel op my bors aan die slaap geraak, of die slaap kom sommer terwyl ek op my knieë is. Terwyl ek nou weer die roetine met 'n yster wil toegepas kry om in die oggend stiltetyd te hou, kom Jesaja 40 tot 55 op my pad. Ek worstel 3 weke aan die paar hoofstukke. Lees dit meer male deur. Som dit uiteindelik op en gaan weer daardeur. En toe besef ek die antwoord op my "lewenservaring" wat ek hierbo gesien het.
God het my lief! Hy het my geskep! Hy stel intens in my belang! Hoe het ek dit so lank gemis? Hoe meer ek deur my aantekeninge gaan, hoe meer voel ek opgewonde. Hier is iets waaroor ek opgewonde word.
Kom ek deel waaroor ek so begin voel.
Ek werk met tegnologie elke dag. Wetenskaplikes en wetenskaplike artikels is deel van my lewe. Evolusie is amper onaantasbaar. Die ruimte met sterre afstande is bekende stories. Die immer groeiende "heelal" en nuwe "link" gebeentes wat opgegrawe word is gereeld punte van bespreking. En toe lees ek hierdie mooi verse in Jesaja (wat ongeveer 545 vC = 2550 jaar gelede geskryf is):
God vra: Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet, met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal, met 'n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met 'n skaal die berge en die heuwels geweeg? (40:12)
Die enorme mag van God tref my. Ons "heelal" is met die breedte van God se hand bepaal. Erger nog, die tydskaal word aangegee as "Ek is die eerste, en wanneer die laaste dinge gebeur, sal ek nog die Here wees". (41:4).
En nou die deel waar hierdie almagtige God aandui dat Hy vir my lief is. "Omdat jy vir my kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe". (43:4). Ja, ek weet, dit gaan oor die volk Israel in hierdie konteks. Maar ek leef in die kennis van die nuwe testament. Ek is deel van die volk Israel. In Jesus Christus is ek nou ook 'n kind van God. Daarom is hierdie deel op my van toepassing. Dit is op al God se kinders wat Hy geroep het van toepassing.
Is dit al waarom ek so opgewonde raak. Nee, nog lank nie. Die Here sê "Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuut doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom;...". (43:18). Watter mooi lewensinstruksie is hierdie nie. My pessimisme wat hierbo begin deurslaan het kry nuwe rigting. "Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie". Ek kan my oë opslaan om die dinge wat die Here gaan doen te sien.
Wel, ek sien nie te veel van die dinge wat die Here doen nie. Sien, ek is "maar net 'n mens". Ek weet daar is baie dinge wat ek doen, en al gedoen het, en dink om te doen, wat maak dat ek liewer nie in "God se teenwoordigheid" kan kom nie. Ja, die Here weet dit ook, en toe kom ek op hierdie juweel af: "En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie". (43:25). God vergewe al daardie dinge! DIT is die God wat ek aanbid. Die Een wat my geskep het. Die Een wat iets nuut gaan doen. Die Een wat my lelike dinge teenoor Hom en Sy skepping vergewe. Die Een wat my liefhet!
Teen hierdie tyd (en ek is nog maar by hoofstuk 43), is ek reeds geraak in my binnekant. Daar is dus 'n totaal ander perspektief as my werk en of geld en of regering wat nie aan my drome voldoen nie. Daar is die Een wat alles geskep het, en vir my lief is.
Natuurlik is daar nou die vraag: Hoe maak dit my werk, regering, bankstate ens. beter? Vir my was daar heelwat ander verse wat my gedagtes ingekom het as antwoord op hierdie vraag. Kyk byvoorbeeld 47:12-15 wat in kort die volgende sê: Beswerings, toordery, voortekens, voorspellers, sterrekyk - gaan alles tot niks kom nie - hulle kan jou nie red nie. Hoofstuk 51 vertel dat die Here se oplossing ewig bly staan. Vers 12 byvoorbeeld "Hoe is dit dat jy bang is vir 'n sterflike mens, vir 'n mens wat so maklik vergaan soos gras?". Die antwoord op die vraag is om meer "uit die hemel" na die probleme te kyk. Jou werk, regering, geld en so, is maar dinge wat net nou bestaan. Dit kan alles verander nog in jou leeftyd. Is jou werk nie jou keuse nie? Is jou begroting nie in die gevolg van jou beplanning en keuses nie? Kan jy nie verander om jou huwelik meer te maak soos jy gedroom het nie. Hoe, en waarom? Omdat die Here jou liefhet! Omdat Hy jou gemaak het! Omdat jy aan Hom behoort! Omdat jy die ewige van die Here bo die menslike stof se "nou" kies.
Hoekom maak dit my so opgewonde? Omdat ek gesien het hoe die Here met die mense en hulle "kan nie anders wees nie" spot. Lees gerus hoofstuk 44:6-20. Ek kon nie anders as om op te merk dat daar komedie in die Bybel opgeteken is nie. Die uitdrukking was baie snaaks. Jy kap 'n boom af. Een deel van die hout vat jy en maak kos daarop gaar. Jy eet die kos en sê - ai die kos is lekker. 'n Ander deel van die hout vat jy en maak vuur en sê - ai dit is lekker warm. Dan vat jy die ander deel van die hout, en sny 'n beeld daaruit, buig voor die hout beeld en sê - red my. Hoe blind kan mens wees, vra die Here! Ja, inderdaad, hoe blind kan mens wees.
My oplossing sien ek in hierdie goue vers: "So sê die Here jou Verlosser, die Heilige van Israel: Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil, wat jou lei op die pad wat jy moet gaan. As jy maar aan My gebooie gehoorsaam was, sou daar voorspoed en redding vir jou gekom het, so onkeerbaar soos 'n rivier, soos die golwe van die see." (48:17)
Hoofstuk 55:1-11 is almal goue verse. Watter dinge is vir jou en my belangrik? Hierdie deel van Jesaja het my geïnspireer om God meer belangrik in my lewe te maak. My hoop is dat ons hiermee ook meer op Hom sal fokus met alles wat ons doen. Maak God wie Hy is in ons lewe - ons Skepper!



No comments:

Post a Comment