Saturday, January 16, 2010

Geestelike Leierskap

’n Paar gedagtes: Die kerkraad as die gemeente se geestelike begeleier

Die kerkraad se nuwe rol breek dramaties met die rolle wat die afgelope jare aan kerkrade toegeken is uit sekulêre modelle: 
·         In die 1950’s en -60’s was die paradigma vir kerkrade se funksionering dié van die dorpsraad: die versameling van gemeenskapsleiers, wat moet sê hoe die gemeenskap moet funksioneer.
·         In die 1970’s en -80’s was die paradigma vir kerkrade se funksionering dié van die munisipaliteit: die mense wat moet toesien dat dinge in goeie werkende toestand bly.
·         Sedert die 1990’s het die paradigma van die bestuurswêreld kerrade se funksionering bepaal: die kerkraad was die punt waarvandaan oorkoepelende beleid, fisie en koördinasie bestuur is.

Elkeen van hierdie paradigmas het hulle goeie en slegte punte gehad.

Die nuwe rol van die kerkraad vereis dat daar met ’n nuwe paradigma gewerk moet word.  As ons vir mekaar sê dat die kerkraad se nuwe rol grootliks dié van geestelike leierskap is, is die voor die hand liggende paradigma dié van geestelike begeleiding (spiritual direction).  Geestelike begeleiding is ’n ou tradisie in die christelike kerk wat tans na ’n lang tyd van onbruik weer opleef.  Dit is die gebruik van individue om ’n mentor/begeleier te kry om hulle te help om na te speur wat God besig is om in hulle lewens te doen.  Die geestelike begeleier se rol is veral om te luister na wat in die persoon se lewe aangaan en om die persoon te help tot groter insig.  Hoewel dit ’n rol is wat tradisioneel aan ’n individu toegeken is om vir ’n ander individu te speel, sou ’n mens met reg kon dink aan die kerkraad wat kollektief hierdie posisie teenoor die gemeente inneem. 

As geestelike begeleiding die paradigma is vir die nuwe rol van die kerkraad, kan ’n kyk na die basiese uitgangspunte van geestelike begeleiding ons help tot groter helderheid oor ons nuwe rol en manier van funksionering.  Ons het die afgelope jare reeds belangrike treë in hierdie rigting gegee, sodat dit nie vreemde terrein is wat ons gaan betree nie.

Uitgangspunte van geestelike begeleiding:
·         God is aktief werksaam in die wêreld.  Hy is altyd besig om iets te doen.  Wat Hy aan die doen is, is die deurslaggewende ding wat aan die gebeur is.
·         Die eerste grondhouding van geestelike begeleiers is heilige respek.  Ons is op heilige grond en moet dit nie vir ’n oomblik vergeet nie; die gemeente waaroor ons praat is die terrein van God se werksaamheid.  Daarom moet ons ook oop wees vir die onverwagte en onbeplande.
·         Die tweede grondhouding van ’n geestelike begeleier is gehoorsaamheid.  Ons moet altyd bereid wees om ons eie planne op te skort indien God elders lei.  Dit geld nog meer vir ons as kerkraad, omdat ons tegelykertyd geestelike begeleier en deel van die gemeente is.
·         Geestelike begeleiers probeer mense lei om groter belangstelling te ontwikkel in God as in hulself.
·         Ons is nie uitgelewer aan raaiwerk om raak te sien wat God aan die doen is nie.  Daar is wysheid wat oor die eeue heen versamel is wat ons hiermee help.  Die Bybel is vir ons hierin van onskatbare waarde.
·         Die allerdaagse, die ‘onbelangrike’ en die klein dingetjies verdien net soveel aandag as die uitsonderlike, die ‘belangrike’ en die opspraakwekkende.
·         Elke mens/gemeente is uniek.  ’n Mens kan nie klaargemaakte antwoorde van elders klakkeloos op ander mense/gemeentes afdwing nie.  Wat vir een persoon/gemeente ’n goeie ding is, mag dalk net vir ’n ander persoon/gemeente die slegste denkbare ding wees.
·         ’n Geloofsbegeleier is ’n byspeler in die drama, hoewel sy/hy ’n belangrike rol speel.  Die persoon/gemeente self en God is die hoofspelers.  Die persoon/gemeente is nie die geestelike begeleier se ‘projek’ en prestasie nie, maar God se eiendom, waarmee Hy ’n intens persoonlike pad loop. 
·         Een van die groot take van geestelike begeleiers is om dinge name te gee.  Geloofsbegeleiers kyk dieper as die oppervlakte van dinge wat gebeur het en sit hulle vinger op die diepste motief waarmee iets gedoen word, die werklike bron van die emosies wat opgewel het, die diepste aard van die daad wat gedoen is.  Deur dinge hulle regte name te gee, stroop geestelike begeleiers mense/gemeentes van die rookskerms, rasionalisasies, selfmisleiding, verskonings en ander meganismes waarmee hulle dit moontlik maak om in ’n ander rigting te volhard as die waarop God hulle wil neem.
·         Geestelike begeleiers help mense/gemeentes om hulle stories op verrassende maniere anders te vertel.  Hulle help mense om God se bepalende plek in hulle stories raak te sien en hulle stories as evangelie-stories te verstaan.
·         Geloofsbegeleiding is nie ingestel op probleemoplossing nie.  Dit is ingestel op groei en vervulling van jou doel.  Daarom probeer geloofsbegeleiers nie mense so vinnig moontlik deur hulle krisistye kry nie.  Krisisse word eerder gesien as groeigeleenthede.  Die fokus is altyd swaarder op die tekens van God se werksaamheid in die krisistyd as op maniere om die krisis op te los.  Verstaan van die betekenis van hierdie tekens gee sleutels om mee te werk vir die pad vorentoe.  Dit lei natuurlik meestal tot heling, maar nie op die gouste manier moontlik nie.  Die heling is hier ’n byproduk van die proses en nie die fokuspunt nie.

Die praktyk
·         Geestelike begeleiers luister na mense se stories en help hulle om sin te maak daarvan in die lig van God.  Die kerkraad as die gemeente se geestelike begeleier moet van vergadering tot vergadering die storie van die afgelope maand fynkam vir God se werksaamheid en daarvan sin probeer maak op so ’n wyse dat dit rigting gee vir die toekoms.  Dit sou gedoen kon word in die vorm van ’n uitbreiding van die ‘hoogtepunte en laagtepunte’-rubriek van vorige kerkraadsvergaderings.
·         Tyd saam in die Woord is ’n belangrike element van ’n kerkraadsvergadering.  Ons ‘wandel in die Woord’-oefening is nog meer as voorheen ’n sentrale aktiwiteit van ’n kerkraadsvergadering.
·         Die luistersiklus van die Seisoen van Luister lyk na ’n nuttige oefening – veral waar stemme van buite ingebring word in die proses.
·         Gebed vir die gemeente raak nou ook ’n sentrale saak.  Daardeur bevestig en versterk ons ons geloof in die aktiewe betrokkenheid van God by die gemeente.

Die kerkraad en bestuurskommissie
Die kerkraad en bestuurskommissie moet nie gesien word as “geestelik” teenoor “wêrelds” nie.  Die twee liggame se funksionering dek dieselfde terrein.  Albei het ewe veel te make met die praktyk van gemeentewees en met die dinge van God.  Die onderskeid lê in die vlak van detail.  Die kerkraad vra na die breë riglyne en beleid na aanleiding van ’n proses van geestelike onderskeiding.  Die bestuurskommissie neem die bal verder en neem verantwoordelikheid daarvoor dat daar tot op detailvlak aandag gegee word aan hierdie sake en dat dit in die praktyk uitgevoer word.  Daar is egter ook ’n stuk geestelike onderskeiding wat van die bestuurskommissie gevra word.  Die metodes waarmee ons doelwitte probeer bereik moet in harmonie wees met ons identiteit en doel.  Hier het die bestuurskommissie ’n belangrike onderskeidingstaak.  Dit is nie net belangrik dat besluite uitgevoer word nie.  Hoe besluite uitgevoer word is ook van wesenlike belang.

Geskryf deur my vriend en Mentor Breda Ludik

1 comment:

  1. kief Paul!

    Chek gerus hierdie baie skerp dog empatiese kommentaar van Donald Miller op 'n Christen leier wat mense nogals warm onder die kiewe laat...

    donmilleris.com/2010/01/13/1513/

    ReplyDelete