Tuesday, May 18, 2010

Die kerk moet oor seksuele oriëntasie tot inkeer kom

Ek het hierdie interresante artikel van Gerrit Brand gekry by http://blogs.litnet.co.za/gerritbrand/die-kerk-moet-oor-seksuele-orientasie-tot-inkeer-kom

Maan 17 Mei 2010, 09:30  
Allan Boesak en ander “geestelike leiers” het ’n belangrike memorandum oor “diskriminasie teen mense wat lesbies, gay, biseksueel, transgender en interseks is” onderteken. Hiermee voeg ek my handtekening by.
Ek doen dit spesifiek as Christen, as teoloog en as NG kerklidmaat (maar nie as “geestelike leier” nie – wat is dit in elk geval?). Met ander woorde, die rede hoekom ek dink die kerk en die breër samelewing behoort af te sien, nie net van diskriminasie – byvoorbeeld deur uitsluiting – teen die betrokke minderheidsgroep nie, maar ook van die morele veroordeling van hierdie seksuele oriëntasies en verhoudings, is dus nie dat “sekulêre” oorwegings hier vir my swaarder as geloofsoorwegings weeg nie, maar juis omdat ek die Bybelse getuienis oor God se liefde vir mense ernstig probeer neem.

Omdat die kerk se maatskaplike betrokkenheid, haar “politiek”, myns insiens altyd in die eerste plek op die interne lewe van die kerk as ’n anderster, alternatiewe gemeenskap moet fokus (die ou cliché van “be the change you want to see”), moet ek dan ook my geloofskaarte op die tafel sit en dit onomwonde stel dat ek dit onchristelik vind om mense op grond van (die verantwoordelike uitlewing van) hul seksuele oriëntasie van volle kerklidmaatskap of van enige amp in die kerk uit te sluit. Eties lê dit op dieselfde vlak as om mense op grond van ras, taal of geslag uit te sluit. Solank sulke uitsluiting steeds in ’n denominasie plaasvind, doen dit afbreuk aan die geloofwaardigheid van sy openbare getuienis in die algemeen – net soos die Afrikaanse "susterkerke" se ondersteuning van apartheid in die verlede aan hul openbare getuienis afbreuk gedoen het.
Ek doen daarom, op hierdie Internasionale Dag teen Homofobie en Transfobie, ’n beroep op my eie kerk, en op alle Christene, om na die stem van God (eerder as na ’n simplistiese uitleg van Bybeltekste, wat op minagting vir God se Woord neerkom) te luister. Soos die genoemde memorandum dit stel: “Ons glo die Heilige Gees lei die kerk tot groter begrip oor sake rakende menslike seksualiteit en help ons om lidmate te help om hul seksualiteit en geloof te integreer. Ons glo die Gees kweek in ons ’n groter begrip vir God se liefde en genade vir alle mense, ongeag hul seksuele oriëntasie.”



5 comments:

  1. Stem heelhartig saam!!
    Gaan lees my gedig: Skewer as skeef ...
    op www.woes.co.za
    by skrywers: Pieta

    ReplyDelete
  2. Stem ook heelhartig saam. So verskriklik maklik om in wit en swart terme te dink en te "verabsoluteer". Ek bid ook vir hierdie bekering van die NG Kerk (en ander)

    ReplyDelete
  3. mmm... daar is 2 kante. Daar is soos hier bo genoem, dat die kerk mense moet lief he en aanvaar soos Jesus. Yes. Im all for this. Maar, on the flip side, ons is ambasadeurs van God. Mense Kyk na ons en sien God. of moet... So nou sien hulle 2 mans wat in 'n verhouding saam lewe? Niemand is perfek nie. En niemand is sonder sonde. Maar gaan daai persoon mense se dat hoe hulle lewe verkeerd is in God se oe?

    ReplyDelete
  4. Ek sien terme soos haat, verwyt, veroordeel. Ek lees ook omgekrapte emosie. Te veel seksualiteit, woede, veroordeling. Ek kan nie in die gees die Gees hoor nie. Hoe leef elkeen van die mense in hierdie hele saak betrokke uit die Gees alleen? Hoeveel mense, vervul met die Gees, kan hieroor namens die Here praat. Dit is tog al wat saak maak?!

    ReplyDelete