Thursday, February 25, 2010

Hoe dink ek oor God en die taal waarin ek dit bely.

Vandag het ek twee artikels gelees deur twee verskillende Joernaliste. Manne wat ek respekteer en wat voorloop in die media vir God. Tog in albei hulle artikels het dit gegaan oor gelowiges wat nie genade het vir ander nie. Vir die manier hoe ons met en oor mekaar praat. Lees gerus die rubrieke
En die vuiste klap weer...: Nuus24: Rubrieke: HeinzOldewage
’n Geloofstaal wat verskil: Beeld: Rubrieke: NeelsJackson
Ek dink baie oor hoe ek praat oor God. Hoe ek in my verstaan oor God voort ploeter met woorde wat nie behoorlik kan beskryf wat ek sukkel om te verstaan nie. Dit is met hierdie selfde ou klein breintjie wat ek dan so suksesvol krities ander se praat dissekteer, uitmekaar skeur en verneder.
Ek wonder soms hoekom dit vir my so belangrik is om ander mense se geloofs-ervarings en die taal waarin hulle dit weergee so vinnig as moontlik van die tafel af te probeer af. Ek dink ek doen dit omdat die taal wat hulle gebruik my dadelik onseker maak oor die dinge waarmee ek worstel. Miskien maak dit my so ongemaklik want dan voel dit vir my asof God nie meer lekker pas in die oulike boksie waarin ek Hom en my teologie gepak het nie. Kan dit moontlik wees dat God groter as my verstaan en my teologie is? Ek hoop so!
Hoekom bly ek dan so bedreig? Ek dink dit is omdat ek vir God so baie lief het en nie iets wil doen wat hom teleurstel nie. So bang om die mens te wees wat God my geskep het om te wees dat ek veiliger voel met ‘n klomp reëls en ‘n sistematiese teologie wat ek van alle kante af kan verdedig. Te bang om God se grootheid te geniet ook daar waar Hy met ander besig is op ‘n manier wat ek nie altyd lekker verstaan nie.
Daarom as ek seer stories lees soos die van Hettie is my eerste reaksie ook ongelukkig om ‘n klomp vrae te vra, krities te kyk en God te mis. As ek egter ‘n oomblik rustig word en daarna kyk kan ek nie anders om met groot nederigheid te sê Here vergewe my. God was en is vir haar ‘n werklikheid.
Ek probeer leer uit ander se belewenis van God. Aspekte van God sien wat verberg is vanuit my “viewpoint” Dit gaan egter moeilik maar dit help my bietjie om van my teologiese perd af te klim. Die God wat ek so mooi beskryf het in my doktorsgraad te laat gaan en die God te ontdek wat nie net in my Teologie leef nie, maar wat belangstel in my menswees. Ja die eenvoudige Ek. Om hom nie net lief te hê met my verstaan van Hom nie, maar om Hom lief te hê in my aanbidding.
Ek het onglangs die volgende gelees “This is not the life I planned or the life I recommend to others. But it is the life that has turned out to be mine, and the central revelation in it for me-that the call to serve God is first and last the call to be fully human!” Barbara Brown-Taylor.



No comments:

Post a Comment