Thursday, July 8, 2010

Laat God jou verander . . . wil jy?

Onthou jy nog die animasie kleikaraktertjie, Morph, wat so uit die potloodhouer geklim het? Ek het my altyd verwonder aan die kleimannetjie wat deur “sy skepper”, Tony Hart, deur verskillende vorme aan ons bekendgestel is. Ek kon myself verwonder aan aan wat Tony Hart met die bolletjie klei kon regkry.
So staan ek ook in verwondering oor God – Hoe Hy mense verander. Dit bly vir my een van die grooste wonders om te sien hoe God mense nuut maak. God lap niks. God maak nie heel nie. God maak nuut!
Die opstellers van die Dordtse Leerreëls, een van ons belydenisskrifte, se verwondering oor God se werk in mense hoor jy duidelik in hul formuleringe: “Hy dring . . . in tot die binneste dele van die mens met die kragtige werking van die wederbarende Gees; Hy open die hart wat gesluit is; Hy vermurwe wat hard is; Hy maak dat die wil wat dood was, lewe; wat boos was, goed word; wat nie wou nie, nou inderdaad wil; wat weerspannig was, gehoorsaam word”. Paulus verwoord dit so mooi in 2 Kor 5:17 - Elkeen wat aan Christus behoort, is ’n splinternuwe mens; ’n nuwe skepping in die kleine.
Op Sondag, 18 Julie, begin ons met ‘n nuwe reeks tydens al die eredienste: Laat God jou verander . . . wil jy? Ons gaan met die reeks die Bybelboek, Romeine, as ons basisteks gebruik. Die brief aan die mense in Rome laat ‘n mens in verwondering staan oor God wat mense verander, soveel so, dat mense op grond van Sy groot ontferming, hulself kom gee as lewende en heilige offers vir die Here Rom 12:1. God se hand wat na my uitgesteek word, doen iets aan my – ek wil diensbaar raak vir God. Anders gestel: Die genade van God is wel onverdiend, maar dit is nie gratis nie: Die oproep van Christus: Volg MY, eis gehoorsaamheid! Om maar net vergiffenis van sonde sondermeer te verkondig, is om God se gade goedkoop te maak. Nee God se genade maak ons nuut: Dit laat ons anders leef: dit beïnvloed ons denke; dit laat ons diensbaar wees in God se koninkryk met die gawes wa Hy aan elkeen van ons gegee het; dit laat ons met ander oë na mekaar en ander mense kyk; dit laat my word wat God sê dat ek is!
Die teks en temas vir dié tyd is:
18 Jul - ‘n Kragtige verandering - Rom 1:1-17
25 Jul - Waarom verander? - Rom 3:21-31
1 Aug - Vrug van verandering - Rom 5:1-11
8 Aug - Dood vir die sonde, maar lewend vir God - Rom 6:1-14
15 Aug - Mense met sonde - Rom 7:1-25
22 Aug - ‘n Ander lewe deur die Gees - Rom 8:1-7
29 Aug - Niks kan my skei van die liefde van Christus - Rom 8:31-39
5 Sept - Verander vir ander - Rom 10:5-17
12 Sept - Laat God julle verander - Rom 12:1-8)
19 Sept - God se liefde verander ons menswees - Rom 12:9-21
26 Sept - Maak die sirkel groter - Rom 14:1-23
3 Okt - Die evangelie is vir alle mense - Rom 15:1-13
Terwyl ons met die reeks oor verandering besig is, gaan die kerkgebou ook deur ‘n veranderingsproses sodat ons kinders beter bedien kan word; ons voor en na eredienste lekker kan saamkuier; en ‘n meer geskikte plek vir ons meditaiewe eredienste, klein begrafnisse en huweliksbevestigings kan hê.
Laat God ons verander . . . wil jy? Ek wil graag deur God verander word!
Die reeks sal ook beskikbaar wees in podcast formaat op die blog



No comments:

Post a Comment