Wednesday, January 11, 2012

Huweliksvoorbereidings kampe

Huweliksvoorbereiding
Die besluit om te trou is waarskynlik een van die grootste besluite wat ‘n mens neem, aangesien dit twee mense lewenslank aan mekaar verbind. Dit kan een van die wonderlikste ervarings wees of dit kan ’n nagmerrie wees.
Geen huwelik is gewaarborg nie! Ons almal leef met vrae en benoudhede. Daarom is dit belangrik om voor die tyd te gesels oor die belangrike dinge. Deesdae lees ons dat ongeveer 58% van huwelike eindig met egskeiding. Ten minste 15% van die ander is ongelukkig. Iemand het eendag gesê dat as dit so moeilik is om gelukkig getroud te wees dan kry sy die jammer wat ongelukkig getroud is! Dit is genoeg om enige persoon twee keer te laat dink. Goeie kommunikasie en verstaan van mekaar se verwagtings saam met 'n  intieme verhouding met God gee egter hoop. Die Huwelik is God se droom en maak die lewe net soveel meer besonder. Tydens die Huweliksvoorbereidings kamp wil ons saam werk om kwesbaarhede (rooi ligte) te identifiseer en bevredigend deur werk tot albei partye vrede daaroor het.

Daar is ‘n maksimum van 5 paartjies per naweek en die gesprekke vind plaas op ‘n gemaklike manier. Dit is nie net geleenthede waar julle toegespreek word nie, maar waar julle aktief deelneem aan die gesprek.

Ons gaan stilstaan by die volgende
· Die belangrikheid van “commitment”
· Hoe om julle verskille te identifiseer en te waardeer.
· Die kuns van kommunikasie
· Konflik hantering
Die belangrikheid daarvan om tyd saam te spandeer en om julle vriendskap te versorg.
· Om seker te maak die ander voel geliefd
· ‘n Goeie seksuele verhouding
· Om te gesels oor julle drome
1. Kommunikasie. Dit is belangrik dat paartjies die belangrikheid van kommunikasie sal verstaan, maar ook hoe dit deur persoonlikheid, familie geskiedenis en omstandighede beïnvloed word.
2. Commitment. Commitment gaan oor die hart van ‘n huwelik waar paartjies kies om hulle lewens so in te rig dat die ander persoon altyd eerste kom. Dit beteken ook dat daar gekyk word na wat het julle van mekaar nodig.
3. Konflik hantering. Konflik kan ‘n huwelik vernietig of dit kan ‘n huwelik sterk maak. Daar word gekyk hoe woede hanteer word, verskille gevier word, kyk na die soek van oplossings. Daar word ook gekyk na wat vergifnis werklik is.
4. Hou die Liefde lewendig. Hier gaan gekyk word wat nodig is binne julle huwelik sodat julle nader na mekaar kan groei.
5. Gedeelde waardes en lewens doel. Alhoewel die verskille gevier moet word, moet die paartjie doelgerig iewers heen op pad wees. Julle gaan genoeg tyd kry om oor die toekoms te praat tov. Kinders, diere, finansies en geloof.
6. Mediese. Danette hanteer ook die mediese geskiedenis van die paartjies en gee ook meer inligting oor voorbehoedmiddels.
Myers-Briggs Persoonlikheids toets. Voor die naweek gaan jy geleentheid he om die gratis Myers-Briggs persoonlikheid stoets te doen wat ons dan gedurende die naweek gaan hanteer.


Waar: Die kampe word by Ysterfontein gehou. Ons bly in n wonderlike plek teen aan die see met n pragtige uitsig.



Wanneer: 23-25  Maart 2012, 31 Augustus –2 September 2012,19-21 Oktober 2012 en 2-4 November



Kostes: R450 per persoon vir die naweek, ingesluit verblyf, kos en materiaal.


Bespreek gou BEPERKTE aantal plekke beskikbaar
Die Huweliksvoorbereidings kursus is ontwikkel deur Dr’s Paul en Danette Barnard. Hulle het die kursus die afgelope paar jaar in die Kaap aangebied waar dit van krag tot krag gaan.
clip_image006 Paul is voltydse Familiepredikant by Helderberg gemeente en het ook sy Doktorale studies in pastoraat voltooi by Princeton. Danette is ’n Mediese dokter en boonop nog ma van drie woelige seuns.
Vir meer inligting skakel Paul Barnard by 0823749520 of stuur e-pos aan paul@nghelder.co.za

4 comments:

  1. Hallo Helderbergers!
    Ek is 'n oud Matie, oud Tukkie en 'n oud NG dominee wat nou een van die baie ballinge in Britanje is. Dit is interessant om te sien wat julle doen en dink en hoeveel raakpunte daar tussen ons is. Ons het ook onlangs (weer) bikers geword. Groot Rugby ondersteuner. Baie bekommerd oor die Bokke se huidige benarde posisie. Ek het 'n krities-komiese blogpos op my pasgestigde blog geplaas. Dalk wil julle daar inloer. Groete!

    ReplyDelete
  2. Huweliks voorbereidings kamp 10-12 September, Avondrood Rawsonville

    Vrydag middag is ons vol verwagting, klaar gepak, op ons motorfietse en oppad na die huweliks voorbereidings kamp. Die natuurskoon op pad soontoe is so aangrypend dat ek plek-plek sukkel om op die pad te konsentreer. Die weer was pragtig en dit was asof alles in die natuur net vir ons wou se^- God het groot planne met julle die naweek. Aangekom by die plaas verneem ons ons bly eintlik by die berghut. By die paadjie aangekom besef ons dit gaan bietjie moeiliker wees as wat ons verwag het, so ons blaas wiele af, haal diep asem (ek bid baie hard) en ons pak die pad staande aan. Die pad is vol ronde klippe en sand en ek moet regtig uithaal om bo-op my ysterperd te bly. Ek sing 'n danklied in my helmet toe ons om die laaste styl draai kom en ek gewaar Paul op die stoep staan met 'n beker koffie in sy hande.

    Ons begin groet en mekaar voorstel, ontmoet die ander paartjie- Andre en Charme, drink die heerlikste koffie en so begin die naweek.

    Paul kook 'n storm los en ons begin met die amptelike "werk " van die naweek. Ons was besig! Ek het lank laas so intens geluister na iemand wat praat, het behoorlik aan Paul se lippe gehang, ek was so bang ek mis iets of vergeet iets wat hy se^. Verder moes ek regtig hard dink omdat jy selfondersoek ook doen en dit vat nogal effort. Ons was besig tot seker na 23h00.

    Saterdag oggend word ons wakker met die mooiste voelsang en hoenderhane wat kraai op die buurplaas. Na ontbyt begin ons weer met die sessies. Vandag hanteer ons sake soos gesins agtergrond, konflikhantering,gesondheid, familiebeplanning ens. (ek wil nie alles verklap nie). Ons gesels dat dit gons en leer so baie van ons maats .
    Die middag kry ons 'n blaaskansie, en ek en Tom besluit om te probeer afry met die bergpad en die omgewing te gaan verken. Na 'n moeilike begin begewe my moed my en ek stap maar eerder die pad af. So kry ons toe ook 'n geleentheid om van ons konflikhantering strategiee wat ons bespreek het toe te pas!
    Die aand sessie was baie inseggewend (jammer julle moet dit bywoon om te beleef) en ons het weer eens heerlik aan Paul se kos gesmul. Almal het doodmoeg, baie tevrede en baie verlief gaan slaap.

    Sondag oggend was die mooiste oggend! 'n Mooi groot pofadder het ons stoep kom opsoek vir lafenis en nogal opwinding verskaf.Paul het gespring vir sy kamera en ander het gespring vir stoele om op te klim! Ons het 'n lekker sessie gehad en was half traag om die naweek te beeindig.
    Almal het apart vertrek, maar daar is 'n band gesmee in Jesus liefde wat nog lank sal staan.
    Ek kan die kursus ten sterkste aanbeveel vir ander gemeentelede. Dit was ontspannend, vol pret, vol teerheid en 'n goeie dosis eerlikheid. Ons het baie van onsself geleer, ons maats beter leer ken en verstaan, en ook baie geleer van hoe uniek en spesiaal God ons gemaak het. Paul, baie dankie vir al die moeite wat jy en Danette ingesit het. Dit was regtig spesiaal om dit saam met julle as familie te kon beleef.
    Lelani

    ReplyDelete
  3. hi paul! baie dankie vir als, dit was onbeskruiflik lekker en ek is nou vol moed oor die pad wat ek en Charme voorentoe gaan stap.

    Ek sal die kamp aanbeveel vir alle paartjies wat die groot besluit en stap neem om getroud te raak.

    Ek is 25 en my verloofde, Charme is 21, lekker jonk, vol lewe en verskriklik verlief! Wat is dit tog nou om getroud te raak, my ma en pa het dit gedoen, ek kan dit ook doen man... Dis wat ons dink... reg...?
    Tye het verander en daar is niks fout as jy soos hier bo voel nie, die werklikheid is dat baie goeie advies en 'n goeie bron van inligting jou saak net soveel sterker maak, en jou uitsig op die huwelik net n trappie op vat.
    Dit is wat Paul en Danette vir ons gegee het, met soveel liefde.
    As julle op trou staan, doen julle self die guns en gaan geniet n naweek saam met hulle en beleef dan self die verskil in julle verhouding/verlowing/huwelik.
    Die kampe word ook op die mooiste plaas gehou, dit is regtig die moeite werd om te gaan.
    ek is so oortuig van die sukses van die kampe dat ek mense wat belang stel om te gaan op een van die kampe en nie seker is nie my nr sal gee en julle kan my bel en ek sal julle verder oortuig, dis regtig so lekker!

    weer eens dankie aan Paul en Danette en die Familiebediening, ek weet dat die Here julle sal seen!!

    Andre en Charme
    082 7861 089

    ReplyDelete
  4. Ek wil net weereens vir jou en die Helderberg gemeente baie dankie sê vir 'n ongelooflike en onmisbare naweek in ons lewe!!! Ek is bewus van die feit dat ek maar in 'n "boks" lewe,maar persoonlik kan ek nie sien hoe iemand kan trou voor hul op die of soort gelyke kamp was nie! Ek glo almal op die kamp het ander boodskap huis toe geneem maar dat dit defnetief 'n positiewe inpak op ons almal se lewens gemaak het betwyfel ek nie vir een oomblik nie. Ek persoonlik weet dat dit my met ander oë na die lewe laat kyk en dit verseker 'n positiewe invloed op my en Hermari se verhouding het is ongetwyfeld.Ek en Hermari stap reeds 'n lang pad saam (7 jaar) en steeds help dit om ander se ervarings te hoor en met hul te deel.Die "verrasings" aspek van die kamp was egter die invloed wat dit op my verhoudigs met ander mense rondom my (vriende,werkers,werkgewers en selfs vreemdelinge) het a.g.v die feit dat ek myself beter verstaan en so ook hul beter kan verstaan! Ek kan dus selfs hierdie gesprek voering aan enige iemand aan raai,want na die kamp het ek net weereens besef dat jy nie ander kan verstaan voor jy jou nie self verstaan!Dit het ons ook laat besef hoe belangrik komunikasie tussen mekaar, mede christene en ook vreemdelinge en vriende is.My persoonlike gevoel is dat 'n kusus soortgelyk aan die 'n hervorming van die kerk en gemeenskappe kan hê!! Bv. As dit in sel groepe behandel word (net 'n idee) want maak nie saak of jy oud, jonk enkel lopend of getroud is hierdie kursus sal verseker iets binne jou raak en jou met nuwe oë na ander en hul omstandighede laat kyk en verstaan. Die feit bly staan sodra jy iemand se omstandigehede verstaan sal konflik vermy word!

    Net so voor ek jou dood verveel sal ek 'n paar hoof punte uitwys wat 'n inpak op my gemaak het:

    1: Verstaan jouself voor jy ander probeer verstaan!

    2: Komuniksie(Praat oor als al dink jy dis nie van belang)

    3: Stel haalbare doelwitte op

    4: Al ken jy iemand hoe lank elke dag leer jy iets nuuts en spesiaal in hul persoonlikheid

    5: WEES LIEF VIR MEKAAR EN VRA GOD OM LEIDING TE NEEM!!!!!


    Ek wil weer eens baie dankie sê aan jou en ALMAL in die gemeente wat hierdie wonderlike geleentheid vir on moontlik gemaak het!!

    Stuur liefde en groete by die huis!!

    BAIE BAIE DANKIE

    Dietrich Steenkamp

    ReplyDelete